Ouers treur oor tragiese ongeluk

Mnr. Kobus Skeen van Ohrigstad is teen die grond nadat hy per ongeluk sy jongste kind met die motor doodgery het.

Klein Anzel is dood nadat haar pa per ongeluk met die gesin se Mahindra oor haar gery het op hul plaas Lekkerhoek, net buite Ohrigstad.

Die dogtertjie was maar ’n jaar en sewe maande oud en haar pa se hart se punt.

Kol. Ronel Otto, ’n polisiewoordvoerder, sê die gesin het glo pas teruggekeer van die Sondagoggend se kerkdiens toe die ongeluk plaasgevind het.

Kobus het uit die voertuig geklim en goed uitgelaai, maar nie gesien dat die dogtertjie ook uitgeklim het nie. Toe hy daarna die voertuig wou parkeer, het hy oor haar gery.

Nooddienste van ER24 is ontbied en Anzel is inderhaas na ’n hospitaal in Lydenburg geneem, maar was reeds dood verklaar by haar aankoms.

Die Skeen egpaar het nog twee kinders.