Ouers soek antwoorde by polisie

Die verdwyning van Bollie Bornmann (24) van die Boschkop omgewing het ouers genoop om die polisie van die Boschkop polisiestasie se optrede te bevraagteken oor hoe hulle gehandel het met hul dogter.

Mnr. Matthew Petzer (45) wil weet waarom die polisie hulle dogter, wat onder die invloed van alkohol was, in middernagtelike ure in ’n voertuig gelaai en in Sunnyside afgelaai het.

Dit is bekend dat Sunnyside ’n gevaarsone geword het in die nag, en die vrou is daar afgelaai terwyl sy geen mens in die stad ken nie.

“Tot hede kon die polisie nie vir ons antwoorde gee nie," het Petzer gesê.

Hy sê die polisie sou in alle gevalle tog iemand wat onder die invloed van drank is, eerder in ’n polisiesel aanhou tot die volgende dag, en hy wil weet waarom dit nie gedoen is nie.

Bollie is reeds vier weke gelede in Sunnyside afgelaai, en is sedertdien nie weer gesien nie.