Oorplanting red diabeet se lewe

In een operasie het Neil Conradie (45) se lewe verander van ’n chronies siek diabeet op nierdialise, na ‘n gesonde man met ’n werkende pankreas en nier. 

Die groot verandering in sy lewe was die gevolg van ouers wat besluit het om hul dogter in haar 20’s wat op Valentynsdag dood is, se organe te skenk.  

Sy het tydens ’n operasie aan ’n breingewas gesterf, het Conradie, ’n bestuurder by Nedbank in Klerksdorp, tydens ’n bewusmakingsveldtog oor orgaan- en weefselskenking vertel. 

Hy het die afgelope week met studente in grafiese kuns by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus en lede van die Potchefstroomse en Klerksdorp Kunsverenigings gepraat. 

Hulle berei voor vir ’n kunsuitstalling oor orgaan- en weefselskenking in Augustus. 

Conradie het vertel hy was sowat ’n jaar op nierdialise weens nierversaking, ’n komplikasie omdat hy byna 30 jaar ’n diabeet was. 

Sedert die nier- en pankreas-oorplanting is Conradie se diabetes omgekeer en is dialise iets van die verlede.