OB bekyk Padfonds

Die Openbare Beskermer (OB) het te kenne gegee dat ’n ondersoek gedoen word na die optrede van die Padongelukkefonds (POF) nadat die klagte ingedien is deur regslui dat die POF se besluite tot R1,6 miljard se uitgawes kan lei.

Regslui het onlangs beweer dat die POF ’n span nuwe prokureurs wil aanwys om die bestaande span te vervang, wat kan meebring dat bykomende uitgawes uit die POD fonds tussen R300 miljoen en R1,6 miljard kan beloop omdat derduisende onafgehandeld sake hierdeur geraak sal word.

Adv. Thuli Madonsela, die OB, het volgens haar woordvoerder ’n span ondersoekers aangewys om die dokumente te ondersoek en na te gaan wat deur ’n prokureursfirma van Port Elizabeth by haar ingedien is.

Die opdrag is glo dat die ondersoekspan ’n voorlopige verslag sal opstel om die OB in staat te stel om te besluit of ’n volledige ondersoek geregverdig sal wees.

Waarnemers is van mening dat die geweldige uitgawe die moontlikheid kan inhou dat die POF nie sy verpligtinge ten opsigte van eise behoorlik sal nakom nie weens ’n tekort aan geld.