Nuwe werkersparty aan kom

‘n Nuwe werkersparty sal volgende jaar in Maart gestig word. Die laaste stap is om ‘n naam vir die party te kies, het Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris aangekondig.

Die United Front (UF), ’n herlewing van die groepering wat in die 1980’s ’n groot rol gespeel het om lokasies onregeerbaar te maak. gaan binne die volgende paar weke dit amptelik van stapel laat loop. Dit moet verenigend buite die ANC se instellings optree.

Numsa beplan ook om afgesien van die UF ook voortaan ’n sosiale beweging te bedryf wat later meer konkreet sal raak en sal omskakel in die te stigte party.

Hierdie planne is deur Jim bekend gemaak op ’n mediakonferensie in Benoni waar Numsa se sentrale komitee verlede week vergader het, onder meer om die verkiesingsuitslae te bespreek.

Die besluite op die vergadering gaan waarskynlik uitloop op die beëindiging van die kortstondige skietstilstand in die twis in Cosatu.

Die UF gaan ’n wapen wees om die werkersklas te verenig, maar sal ’n aktivistiese organisasie wees en protesoptrede aanvoor, het Jim gesê.

Die stigting van die nuwe party sal egter gepaardgaan met deurtastende navorsing en debatvoering.

Foto – Irvin Jim