Nkandla – klug duur voort

Die president moes van die veiligheidsverbeterings by sy Nkandla-landgoed geweet het. Pres. Jacob Zuma het onder meer aangedui waar hy vensters in die geboue wil hê. Hy het egter nie geweet hoeveel die hele projek kos nie.

Ben Turok, voormalige ANC-LP en ook die man wat destyds oor die muilbandwet buite stemming gebly het, het aan lede van die Kaapstadse Persklub gesê die Nkandla-skandaal is die swakste stukkie bestuur in die staatsdiens – ministers en adjunk-ministers ingesluit – wat hy nog gesien het.

Volgens hom is daar baie groot probleme as Suid-Afrika op dié manier bestuur word. Hy sê ministers, adjunk-ministers en amptenare het gekom en gegaan en niemand het met mekaar gepraat nie.

Hy sê die probleem is dat niemand na Zuma gegaan het om met hom oor die verbeteringe te praat nie. Niemand het aan Zuma ’n lys met koste gegee en gesê teken op die stippellyntjie nie.

Die ander groot probleem met Nkandla is die bedrog wat daarmee gepaard gegaan en die koste wat kunsmatig opgejaag is, het hy gesê.

Turok het op ’n vraag oor die verrassende prestasie van die EVV gesê Julius Malema en sy party was slim genoeg om een van die ANC se swakhede uit te buit. Dié party het die ekonomie as invalshoek vir sy verkiesingsveldtog gebruik.

Die EVV het met sy standpunt oor nasionalisering die kieser se aandag gegryp, het Turok gesê.

Foto – Ben Turok