‘n Beter plan is nodig vir SA

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van die ANC-regering is wel ’n redelike plan, maar is hoegenaamd nie ambisieus genoeg om die duisternis probleme in die ekonomie van die land doeltreffend aan te spreek en uit te stryk nie.

Dit is die reaksie van ’n bestuurslid van die Oranje Sake Instituut (OSI) na aanleiding van die ANC woordvoerders se roem dat dit die oplossing vir die land se probleme is.

Tydens die verkiesing het verskeie ANC sprekers die kiesers probeer beïndruk met die NOP wat die belangrikste plan is om ekonomiese vooruitgang te bewerkstellig.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het self ook in sy jongste uitgawe van sy amptelike publikasie daarna verwys en het enersluidend daaroor gereageer.

Die ANC wil met sy NOP probeer om die jarelange pogings om die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) momentum te gee in die hoop om swartes te bevoordeel in elke sektor van die arbeidsmark.

Bo en behalwe die bevoordeling op die arbeidsterrein, bevat dit ook ’n omvattende plan om blankes van hulle grond te ontneem.

Alhoewel liberale meningsvormers die blankes probeer paai deur te kenne te gee dat die ANC die NOP en NDR opper om Malema stil te kry, glo die meeste ontleders dat die ANC verplig word om dit meer konkreet toe te pas.

Die Oranje Sake Instituut (OSI) is egter van oordeel dat die pogings om sogenaamde ongelykheid uit te skakel deur wette en praktyke toe te pas wat meer gruwelik is as wat enige faset van apartheid ooit kon wees, nie die oplossing is nie.

Mense wat wil werk, moet geskei word van diegene wat gedurig met onwettigheid hulle verryk, terwyl ander met ’n bedel-mentaliteit wil vorentoe beweeg.