Motor rubriek – Jeep Wrangler 3,6L Sahara

Die oorspronklike Willys Jeep is gedurende die vroeë 40’s ontwikkel en was ’n bekende gesig tydens die tweede Wêreldoorlog. Later jare is die Willys gedeelte van die naam weggelaat en het dit slegs Jeep geword. Die oomblik wat die sewe-gleuf sierrooster opgemerk word, weet jy dat dit ’n ware en opregte Jeep is. Dit is dan ook geregistreer as ’n waarmerk van die voertuig. ‘n Ander bekende kenmerk is die enjinkap wat met rubber bindstukke toe gehou word. Die nadeel hiervan is dat die battery maklik verwyder kan word.

Die binne-afwerking is wel nie luuks nie maar voldoen aan die vereistes vir ’n voertuig van hierdie aard. Een van die probleme wat ondervind word is dat beenruimte vir die agterste passasiers en ook pakplek beperk is maar daarmee kan saam geleef word. Die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar en dit verseker dat ’n gemaklike posisie  gekies kan word.

Die instrumentepaneel is regvoor die bestuurder gemonteer en is duidelik leesbaar. Alle nodige toerusting is binne bereikbare afstand en bestaan uit ‘n lugversorger, radio, spoedbeheer, elektriese venster beheer ens. Op die driespeek stuurwiel is die nodige beheerskakelaars aangebring om van die toerusting mee te beheer.

Die veiligheidsaspek is ook aangespreek en lugsakke is vir die voorste passasiers geinstalleer. Hidrolies-beheerde ABS remme vorm deel van die veiligheidspakket en alhoewel die remvermoë nie op dieselfde vlak is as ’n motor se remme nie, word die werk tog met veiligheid gedoen.

Wat hierdie ’n ideale veldvoertuig maak is die feit dat verskeie van die panele verwyder kan word, bv. die dak, die deure ensovoorts. Van die panele, soos die dakpanele is van veselglas vervaardig en is lig en maklik hanteerbaar. Op die ooppad is die rit solied maar die voertuig is in sy element wanneer ’n veldrit onderneem word.

’n V6 3,6 liter petroaangedrewe enjin word gebruik en die krag word deurmiddel van ’n 5-spoed outomatiese ratkas na die 245/75 R17 bande oorgedra. Die krag uitset van die enjin sien soos volg daaruit: 209 kW teen tussen 6350en 6400 o.p.m. Maksimum wringkrag van 347Nm is teen 4300 o.p.m. beskikbaar en ’n laestrek ratkas word gebruik in  samewerking met die outomatiese ratkas.

Hierdie voertuig is een van my persoonlike gunstelinge want ek het met ’n Willys Jeep groot geword.