Kortbroek nou Sonder broek?

Een van die opvallende weglatings uit ANC-staatshoof Jacob Zuma se kabinet, was dié van Marthinus van Schalkwyk, ook “Kortbroek” genoem. Dit het daartoe gelei dat hy nou ook uit die parlement bedank het.

Van Schalkwyk het FW de Klerk as leier van die Nasionale Party opgevolg en het daarna die NP se naam verander na die “Nuwe Nasionale Party”. Daarop het hy aanklank gevind by die destydse Demokratiese Party van Tony Leon, en was saam deel van die stigting van die vêr-linkse DA. Sy politieke aspirasies het hom in konflik met Leon gebring, waarop hy weer die DA verlaat het, en kort daarna aangesluit by die ANC. Hy het die eens nasionalistiese NP se finale spyker in die doodskis geslaan deur die party te ontbind en te gaan aansluit by die ANC. 

As vergoeding kon hy eers premier van die Wes-Kaap wees, en later is hy ook beloon met ‘n ministerspos in die kabinet van Thabo Mbeki. Zuma het hom in sy eerste termyn geërf en aangehou.

Met die nuwe kabinetsamestelling is Van Schalkwyk openlik oor die hoof gesien, en vervang deur een van die ander weinige blanke gesigte, Derek Hanekom.

In ‘n kort verklaring het Van Schalkwyk net aangekondig dat hy uit die parlement bedank, en weier om enige aanduiding te gee oor sy toekomsplanne.

Hy sal egter waarskynlik geen inwoner van een van die berugte blanke plakkerskampe wees nie. Sy ministerspensioen sal dit verhoed.  Politieke waarnemers meld egter dat Van Schalkwyk sy politieke kortbroek nou ook verloor het en sonder politieke broek is. Sy bedanking uit die parlement wys egter dat hy diep in sy eer gekrenk is oor sy weglating uit die kabinet, en dat daar tussen hom en Zuma waarskynlik geen groot liefde meer bestaan nie.

Waar Zuma se kabinet ook gelaai is met sy eie lojaliste en selfs teenstanders om hulle te paai, dui Van Schalkwyk en dr. Pieter Mulder se weglating uit die kabinet, dat Zuma hom steeds meer openlik van die Afrikaner begin distansieer.