Korrupsie onder die kluite

Die voormalige minister van Verdediging, oorlede Joe Modise, het daarop aangedring om nuwe vegvliegtuie te koop ondanks die feit dat die lugmag se Cheetah-vegvliegtuie vir minstens nog 14 jaar gebruik kon word.

Modise het ook gevra dat die sowat R6 miljard wat vir die nuwe Gripen-vegvliegtuie nodig sou wees onderspeel  moes word toe die kabinet oor die besonderhede van die multimiljardrand se wapentransaksies ingelig is.

Oudlt.genl. Pierre Steyn, voormalige sekretaris van Verdediging, het verlede week voor die Seriti-kommissie getuig dat Modise allerlei planne probeer beraam het om aan die regering te toon dat hy ook koste bespaar om vir die wapentuig te help betaal.

Só wou hy die aantal soldate van 95 000 na 70 000 verminder. Hy wou ook die operasionele uitgawes met 7% sny om ‘n besparing teweeg te bring.

Selfs met dié slim planne, wat nooit gerealiseer het nie, moes Modise toegee dat daar steeds nie genoeg geld binne die weermag gevind kon word vir die wapentuig nie.

Volgens Steyn het Modise in 1998 vir Trevor Manuel, destyds minister van Finansies, geskryf dat daar ondanks die besparings steeds tekorte vir toerusting is. Modise het egter nêrens in die brief die wapenpakkette of dié se finansiële implikasies genoem nie.

Steyn het Maria Ramos, destyds direkteur-generaal van Finansies, ontmoet om raad te vra oor hoe hy ‘n sakeplan vir miljarde rande se wapens moet optrek terwyl daar nié daarvoor begroot is nie.

Steyn sê Ramos het sy kommer gedeel en onderneem om met haar seniors daaroor te praat. Hy het nooit weer iets van haar gehoor nie.

Foto – Gripen-vegvliegtuie