Kankerlyer drink 74 pille per dag

Hy is maar net nege jaar oud, maar moet daagliks 74 pille drink en suurstof kry.

Graeme Victor is vier jaar gelede met skildklierkanker gediagnoseer en sedertdien het dit na sy longe versprei.

Hy was vir ses dae in die hospitaal nadat hy erge stuipe gekry het.

Volgens sy ma, Marita Victor, gaan dit nie goed met hom nie. Die dokters het gesê hy gaan al hoe meer begin stuipe kry. Met elke aanval gaan ‘n stukkie van sy brein dood.

Omdat die kanker na Graeme se longe versprei het, moet hy aan ’n suurstofmasjien gekoppel wees. Met die hulp van ’n Facebookblad wat deur Martie Stander geskep en aan Graeme opgedra is, het talle mense bydraes gemaak om vir hom ’n nuwe, kleiner suurstofmasijien te kry.

Selfs die lede van die City West-kerk in Melton, Australië, het betrokke geraak en vir Graeme duisende rande ingesamel.

Altesaam R46,545 is binne ’n week ingesamel, oorgenoeg om die Freestyle 3- suurstofmasjien van R44,100 te betaal. Intussen het die Cupcakes of Hope-kankerstigting ook aangebied om die masjien vir hom te skenk. Die gesin kan dus die geld gebruik om vir Graeme, wie se ogies erg weens die kanker verswak het, ’n bril te koop.