Kabi net vol gemors

Die kabinet is nou so vol dat sy lendelam deurtjies nie eers meer wil toemaak nie. As mens sou probeer sou jy elke keer op een of ander plek die lippe van ‘n leuenaar, die boude van ‘n bedrieër, die duime van ‘n dief of iets van ‘n verkragter vasknyp. Dit is nou nie asof die kabinet die enigste ding in die huis is wat iets mee skeel nie. Inteendeel, die huis wat in blinknuwe toestand ontvang is, het oor die jare bouvallig geraak weens die gebruik daarvan as varkskuiling terwyl die ontvangers daarvan reg langsaan ‘n plakkershut opgerig het uit groen staalborde wat in wit pyle aandui dat Bloemfontein ondergronds is en iemand met die naam Theunissen al hemel toe is.

Nietemin word daar tog ook belanggestel in die badkamerkassie wat die belastingbetaler meer as R140m per jaar kos (die R10m wat per minister aan sekuriteit, motors en huise bestee kan word uitgesluit) Ons besin dus oor sommige van die aanstellings.

Die president het goeie redes vir hoekom hy aan spesifieke persone spesifieke poste gegee het, maar soos Faith Muthambi, die nuwe ministress van Propannukasie vir jou sal sê: Dit is sensitiewe inligting en sal nooit in die openbaar bespreek word nie. Dit is ook die eerste ministerie wat ooit geskep is wat ‘n onbeperkte begroting vir Polyfilla het.

Zuma het ook uiteindelik vir Nkosinathi Nhleko beloon met die pos van Minister van Polisie omdat hy vir Shabir Shaik wonderbaarlik genees het van ‘n terminale siekte deur ‘n revolusionêre nuwe golfterapie. Sy beweerde tenderbedrog van R155m by die departement van arbeid is niks om oor bekommerd te wees nie, aangesien dit bedoel was om ‘n regrukplan te befonds. As hy dit by die polisie ook doen kan hulle met nuwe ywer hulle oorlog teen die weermag voortsit! Hy was nog dapper ook, want al moes Zuma hom onder die grootvoete van Mildred die Oliphant uitred het hy darem probeer baklei! 

Die departement van Landknou, Boomrook en Visreuke is verlos van die Tuna Jouma-t Petterson wat vir Pieter Mulder moes oppas en is die trotse eienaar van sy eie kommunis en vakbondleier, Senzani Zokwana. Hy reken die lanbousektor moet verander, daar is nog heeltemal te veel plase wat aanhou voedsel produseer terwyl dit in die hande kan wees van mense wat hierdie booshede onmiddellik sal stopsit. Dit is seker waarom Bheki Cele as sy adjunk aangestel is. Hy sal die plaasaanvallers kan aanmoedig om te skiet om dood te skiet.

Die DA het wel vir Zuma geloof omdat hy wanpresteerders summier geskuif het uit die departemente wat hul tot op die grond afgebreek het. Vir hulle straf sal hulle nou van voor af moet begin met departemente wat nog staan. Mens wonder ook of Pieter Mulder in sy vyf jaar as kabinetslid ooit ‘n kansie gekry het om met Zuma te gesels oor selfbeskikking vir sy volk en of hy die gesprekkie net gevoer het met die 1.5 miljoen Mandelatjies wat jaarliks sy bankrekening beset het.

Uiteindelik is daar maar weinig min nisters wat iets werd is terwyl nog ‘n mannetjie met ‘n kannetjie aangestap kom na die belastingkoei wat al so maer is dat sy bosluise se bloed probeer suig.

Tot volgende slag

Die Sweep