: Goudmyn word stukkie vir stukkie verdeel

Die Grootvlei-goudmyn het uiteindelik die laaste fase van sy bestaan ingegaan en word glo stuk-vir stuk opgedeel, sê die nuwe mede-eienaars van die myn.

Gold One, die nuwe mede-eienaar van die omstrede myn naby Springs, sê die myn sal nie weer heropen word vir produksie nie.

Van die bates is deur ander mynmaatskappye opgekoop.

Die omstrede Grootvlei-myn is in die nuus toe die myn deur die Pamodzi-mynmaatskappy oorgeneem is waarna die knelpunte begin het.

Stakings het gevolg en salarisse aan werkers is nie betaal nie, wat tot gewelddadige protes aanleiding gegee het.

Meer as 9,000 werkers met hulle gesinne is werkloos gelaat toe die myn gelikwideer is, en die kritieke omstandighede van werkers het selfs tot een se selfmoord gelei.

Uiteindelik het die meeste werkers elders in die mynbedryf werk gekry, maar honderde het steeds geen inkomste nie.

’n Woordvoerder van Gold One, sê dié maatskappy het die verwerkingsaanleg en die meeste bogrondse bates, soos die kantoorkompleks bekom, sowel as prospekteerregte langs die Gold One-terrein.

Na verneem word het Gold One nie enige mynregte by Grootvlei bekom nie, maar die maatskappy beplan glo ander moontlikhede, en daarom is sowat 190 voormalige werkers by Gold One se Modder East-aanleg in diens geneem wat reg langs Grootvlei geleë is. Meer werkers sal eersdaags in diens geneem word.