Google beveel om inligting te skrap

Die Geregshof van die Europese Unie (HJEU) het bevind dat ’n individu in die EU wel mag vra dat Google sy persoonlike inligting wat ouer as 15 jaar is, van hul soekenjins verwyder.

’n Spanjaard het die hof genader om Google te verplig om skakels na ’n berig uit 1998 oor die beslaglegging op sy huis, te verwyder. Hoewel advokaat-generaal (AG) Niilo Jääskinen van die HJEU verlede jaar gesê het niemand het ’n “reg om vergeet te word” nie, het die hof bevind ’n individu se reg op privaatheid troef internetgebruikers se reg tot inligting.

Luidens ’n verklaring deur die Britse anti-sensuurpublikasie Index on Censorship skend die uitspraak die beginsels van vryheid van uitdrukking.

Hoewel die uitspraak vir private individue bedoel is, kan dit die deur oopmaak vir enigeen wat hul persoonlike geskiedenis wil suiwer, het hulle gekla.

’n Woordvoerder vir Google in Afrika het gesê hulle is baie verbaas dat die uitspraak so dramaties verskil van die AG se mening en die waarskuwings wat hy gerig en gevolge wat hy uitgewys het.

Die impak van die uitspraakinformeel bekend as die “Reg om vergeet te word”-uitspraakmag in die toekoms ook hier gevoel word, veral wanneer die Wet op Private Persoonlike Inligting (Popi) bekragtig word.

Volgens Tamsyn de Beer, ’n sosialemedia- en IT-regskonsultant, sou ’n plaaslike hof sonder twyfel na die HJEU vir leiding kyk, sou ’n soortgelyke hofsaak in Suid-Afrika aangehoor word.

De Beer het gesê dat ons howe is veral bewus van die behoefte om mededingende grondwetlike regte te balanseer en sou in so ’n geval vermoedelik aansienlik meer aandag gee aan die behoefte om die reg tot privaatheid teen die reg tot vryheid van uitdrukking te balanseer.

Hoewel Google kantore en werknemers hier het, is die maatskappy nie in Suid-Afrika gevestig nie. De Beer meen dit sal interessant wees om te sien of ’n plaaslike hof bereid sal wees om te bevind dat die aktiwiteite van Google binne die bestek van Popi val.