Duurste pad in Suid-Afrika

Die eens gewilde Rolfontein-wildtuin, aangrensend aan Vanderkloof en die Vanderkloofdam, is reeds meer as drie jaar gesluit, en het die publiek geen toegang daartoe nie.

Klaarblyklik word die wildtuin opgradeer met verbeterings wat aangebring moet word om die toerisme bedryf van die gebied te bevorder.

Die Noord-Kaapse Departement van Toerisme het na raming R38 miljoen vir die verbeterings bewillig, maar na drie jaar kon die wildtuin nog nie sy hekke oopmaak vir besoekers nie.

’n Woordvoerder van die belastingbetalersvereniging sê tot hede beloop die eenvoudige plaveisel wat aangebring is vir die toegangspad van 800 meter na die ingang reeds meer as R20 miljoen.

Blykbaar is die stukkie pad verlede jaar, na twee jaar se werk deur ongeveer 120 werkers en toesighouers, uiteindelik voltooi wat dit waarskynlik die duurste stukkie pad in Suid-Afrika maak.

“Indien die beplande ontwikkelingsplan vir Vanderkloof werklikheid sou word, dan gaan hierdie pad deur erwe in ’n nuwe woongebied loop en sal dit waarskynlik weer tot niet gemaak moet word en met ’n ander pad vervang word,” het hy gesê.

Volgens Albi Modise, ’n woordvoerder van die Departement van Omgewingsake, sê die 800 meter pad het net R6 miljoen gekos.

Die res van die begrote R38 miljoen is aangewend om nuwe meubels aan te koop, maar die begrote bedrag is reeds oorskry.

Verbeterings word ook aangebring by die hengelakkommodasie, piekniek  en braai plekke, asook die verbetering van die personeel se akkommodasie.

Hy sê verbeterings sluit ook in die bou van die nuwe ingangshek, ’n nuwe toegangspad na die poort, konstruksie van konferensiegeriewe, verbetering van staproetes en die rehabilitasie van die interne paaie in.

Navrae wat gerig word, bly onbeantwoord. Die Noord-Kaapse Departement van Natuurbewaring het alle navrae in die verband verwys na die Nasionale Departement van Omgewingsake, wat dit weer terug verwys het na die provinsie se Departement.