Bewyse ontbreek in Gupta-saak

Bykomende inligting is blykbaar nodig om die Gupta-saak behoorlik na te gaan, en dit het tot gevolg dat die Direkteur van Militêre vervolging in die afgelope aantal weke verdere inligting aangevra het by die Lugmag.

Die omstrede saak is lank onafgehandel as gevolg van te min bewyse om vervolging in te stel teen twee blankes, lt. kols. Christine Anderson en Stefan van Zyl, wat ook die enigste beskuldigdes is wat oorgebly het.

Nou word nog inligting gesoek om die twee te vervolg.

Die voorlopige ondersoek teen hulle is in 2013 afgehandel en na die Direkteur van Militêre Vervolging verwys vir beslissing.

Blykbaar is die aanbeveling van die hoof-aanklaer dat die saak nie hof toe geneem kan word nie weens ’n te kort aan bewyse.

Een van die aangeklaagdes, ene Ntshisi het later staatsgetuie geword, en die vermoede bestaan dat dit ’n poging is om die saak teen die twee blankes te versterk.

Aanvanklik is die twee blankes aangekla vir korrupsie en sameswering asook bedrog. Die klagtes is glo laat vaar en nou is daar nog ’n klag van oortreding van die instruksies van die Lugmag wat handel oor private vliegtuie.

Dit is nou reeds agt maande sedert die twee blankes in die hof was en hulle is reeds meer as ’n jaar met verpligte verlof.

Regslui wat op hoogte van sake is oor die aangeleentheid, beweer dat daar hoegenaamd geen saak teen die twee blankes is wat sal water hou nie, en dat die hele aangeleentheid ’n poging is om skuldiges te vind, sodat Nommer Een nie in die beskuldigingsbank hoef te staan nie.

’n Regskenner van die Weermag sê die huidige optrede waar “nuwe inligting” gesoek word, ’n duidelike bewys is dat daar geen vaste gronde vir vervolging bestaan nie.

Foto – lt. kol. Anderson