Ai, die polisie darem!

Die een na die ander polisiebeampte word week na week betrap dat hulle besig is met skelmstreke, en dit te midde van die regering se beloftes om die skelms uit die polisie te verban.

Die Valke in Oos-Transvaal moes twee polisiekonstabels, wat opdrag gehad het om die Krugerwildtuin se paaie te patrolleer om verdagte voertuie vas te keer, in hegtenis te neem omdat hulle besig was om ’n vermeende renosterstroper met die staatsvoertuig te karwei.

"Dit is duidelik dat hulle presies die teenoorgestelde gedoen het," het ’n polisiewoordvoerder later erken.

Veldwagters en lede van die Valke se spesiale taakspan het verlede week op die karkas van ‘n swart renoster afgekom en het besluit om die gebied te patrolleer sodat die stropers vasgekeer kan word.

Die vermeende stroper wat gewapen was met ‘n .375-jaggeweer en ammunisie, was toe saam met die twee polisiebeamptes in die staatsvoertuig.

"Die twee konstabels kon nie verduidelik waarom ’n gewapende man, wat nie ’n veldwagter is nie, en ook nie ’n polisiebeampte is nie, saam met hulle in die voertuig was nie,” het ’n woordvoerder gesê.

Die drie verdagtes sal binnekort in die landdroshof verskyn.