Zille kry spreekbeurt

Radio Pretoria het ’n totale ommekeer gemaak en sy uitgangspunte en optrede radikaal verander.

Dit is die mening van ’n voormalige senior amptenaar, en stigterslid van die radiostasie wat bekend gestaan het as die stem van die Boere-Afrikaners.

In ’n ellelange onderhoud, wat gevoer is deur James Kemp, het Helen Zille geleentheid gekry om standpunt te stel, iets wat in die “vorige bedeling” nie toegelaat sou word nie.

Die onderhoud is blykbaar toegelaat in die lig van die besoek wat direkteure van die radiostasie aan haar gebring het. Onder leiding van direkteur Flip Buys is die besoek afgelê en is Zille glo gevra om so op te tree dat Afrikaners nie van haar party vervreem raak nie. Daarmee het die direkteure te kenne gegee dat hulle hulleself daarmee vereenselwig dat Afrikaners die ondersteuners van die vêr-linkse party moet wees.

Ingeligte waarnemers meen dit is ’n radikale ommekeer, en ’n finale teken dat Radio Pretoria, die linkse weg saam met Helen Zille gekies het.

Die Radio het glo ’n terugslag beleef toe hulle nie weer aangewys is as die wenner in die kategorie van “die radiostasie met die mees lojale luisteraars” nie.

Verlede jaar was die radio nog die wenner in die kategorie, maar die nuwe rigting wat die radiostasie ingeslaan het, word ook weerspieël in sy nuwe luisteraars-profiel.