Wêreldwye spioenasie vernietig soewereiniteit

Die media is vol van die nuusgebeure rondom die Krim en Rusland, maar ignoreer die feit dat die "Five Eyes" intelligensie-alliansie besig is om die hele wêreld met hulle spioenasiebedrywighede te annekseer, het die stigter van Wikileaks, Julian Assange, gesê.

Hy het hierdie stelling verlede week gemaak tydens die wêreldbyeenkoms van WHD.global se konferensie. Assange wat sedert 2012 onder asiel in Ekwador se ambassade in Londen bly, het daarop gewys dat daar ‘n dringende nood is vir ‘n onafhanklike internet infrastruktuur vir lande om hulle soewereiniteit te behou en alle pogings van veral die VSA teë te staan wat beheer van kommunikasie wil neem.

"Tot ‘n sekere mate het hierdie te make met nasionale soewereiniteit," het Assange gesê. "Die nuus is vol daarvan dat Rusland die Krimgebied geannekseer het, maar in werklikheid is die Five Eyes intelligensie-alliansie, met die VSA aan die spits, besig om die wêreld te annekseer as gevolg van hulle anneksasie van die rekenaar sisteme en kommunikasietegnologie wat in die moderne wêreld gebruik word.

"Indien daar nie ‘n nasionale netwerk is wat gebruik kan word tydens konflik met die VSA nie, kan lande nie hulle soewereiniteit beskerm en handhaaf nie."

Assange het verder daarop gewys dat die feite wat deur Edward Snowden bekend gemaak is aangaande die Nasionale Sekuriteits Agentskap (NSA) in Amerika en die Regeringskommunikasie Hoofkwartier (GCH) in Brittanje se spioenasiebedrywighede, het ‘n golf van weerstand teen die twee lande veroorsaak wat die geo-politieke mag na Europa toe verskuif het.

"Hierdie anneksasie van die internetwêreld het markkragte geforseer om daarop te reageer. ‘n Interessante geo-politieke fenomeen is geskep met Duitsland wat die nuwe leier in die weste word.

Die eerste manier waarop jy jou leierskap demonstreer is om te wys dat iemand anders jou nie beheer nie. Angela Merkel en die Duitsers as ‘n geheel is stadig besig om hulle onafhanklikheid van die VSA te bewys," het hy gesê.

Hy het ook gewaarsku dat die NSA en GCHQ binnekort oor die vermoë sal beskik om oor die hele planeet te spioeneer, omdat hulle kapasiteit elke 18 maande verdubbel. Hy het hierdie spioenasie "totalitêre distopie" (‘n wêreld so vol vrees en onderdrukking dat dit net in jou gedagtewêreld kan bestaan), gedoop.

Sy oplossing is dat nuwe wetgewing deur lande afgedwing moet word waar kriptografie groter sekuriteit vir hulle sensitiewe inligting sal bring.

Foto – Julian Assange