Wapenskandaal – Nog ‘n kommissaris bedank

Adv. Tayob Aboobaker het verlede Vrydag volgens berigte as hoofgetuienisleier van die kommissie in die ondersoek na die ANC wapenskandaal, bedank.
Aboobaker, kon blykbaar nie met Willie Seriti, voorsitter van die kommissie, oor die weg kom nie, en die wrywing tussen die twee, het verlede week tot breekpunt gekom. Nou doen verdere gerugte die rondte, dat nog bedankings kan volg.
Aboobaker, het na verneem word byna in Augustus verlede jaar ook sy bedanking ingedien nadat regter Francis Legodi bedank het, maar toe nie die daad by die word gevoeg nie. Volgens sommige bronne het Legodi nepotisme, onprofessionaliteit en binnegevegte blameer vir sy bedanking.
Terry Crawford-Browne wat die aanvoerder was in die veldtog om die ANC regering deur middel van ‘n regsgeding te dwing om die kommissie op die been te bring, het gesê dat hy glad nie verbaas is oor die verloop van omstandighede nie.
Blykbaar het Aboobaker vertroulik aan Crawford-Browne te kenne gegee dat hy daaraan dink om te bedank, maar toe besluit het om eerder die kommissie van binne-af te probeer verander.
Crawford-Brown beweer dat die binnegevegte moontlik kan lei tot meer bedankings.
William Baloyi, woordvoerder van die kommissie het op navraag gesê dat die bedankings nie die werksaamhede van die kommissie sal beïnvloed nie.
Sommige bronne spekuleer egter dat die wan-funksionaliteit van die kommissie dalk dui op ‘n goed georkestreerde poging van ‘n pro-Zuma-faksie binne die kommissie, wat ten doel het om die werksaamhede van die ondersoekspan te saboteer, wel wetende dat die uitkoms van ‘n normale ondersoek inderdaad die aanvanklike bedrog-klagtes teen hulle president sal bevestig.
Dit is te betwyfel of veel waarde aan die uiteindelike bevindings van die kommissie geheg gaan word, indien ‘n pro-Zuma-faksie die oorhand oor die werksaamhede van die ondersoekeenheid kry, en die bevindinge so manipuleer dat die verslag die ongerymdhede van die betrokkenes verdoesel.
Intussen word van die blanke belastingbetaler verwag, om nie net al die ANC se skyn-ondersoeke te befonds nie, maar ook om die uitslag sondermeer te aanvaar, het ’n politieke analis opgemerk.

Foto – Terry Crawford-Browne