Voortrekkermonument nie die plek vir die ANC

Die HNP het in n skerp bewoorde verklaring, die politieke bedrywighede wat nou by die Voortrekkermonument gehou gaan word, sterk veroordeel.

Die volledige verklaring lui soos volg:

 

Die hou van ‘n politieke vergadering deur die ANC in die Voortrekkermonument is vir die HNP onaanvaarbaar.

Die Monument is gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaap verlaat het om as volk sy vryheid in die onbewoonde binneland te vestig. Daarom is die Monument vir die Afrikaner ’n simbool van volksvryheid en word dit as ’n heiligdom van die Afrikanervolk beskou.

As die ANC met verteenwoordigers van die Afrikanervolk wil praat, kan aanvaar word dat dit nie oor die vryheid van die Afrikaner sal gaan nie. Diegene wat aan die ANC se gesprek wil deelneem, kan na die ANC se eie vryheidsmonument oorkant die pad by die Voortrekkermonument genooi word.

Dit is opvallend dat die byeenkoms deur die ANC se Cyril Ramaphoza gereël word en dat Roelf Meyer een van die sprekers is. Dit is geskiedenis dat die twee die hoofonderhandelaars by Kodesa was waar deur onderhandeling die Afrikanervolk van sy vryheid gestroop en tot knegskap onder die ANC gedompel is.

Dit is voorspelbaar dat dié beplande vergadering tot geen voordeel van die Afrikanervolk of die Witman kan uitloop nie. Dit word slegs gedoen om die Afrikaner nog eens te oorreed tot aanvaarding van ’n bestel waarin daar vir die Afrikaner geen voordeel is nie.

Die enigste antwoord wat die Afrikaner op Ramaphoza se uitnodiging kan gee, is dat ons nie die ANC-bestel aanvaar nie en daarom geensins belangstel in enige deelname aan die ANC-verkiesing wat op hande is nie.

Die HNP doen ’n beroep op die bestuur van die Vootrekkermonument om die beplande byeenkoms te kanselleer.

Die Leier van die HNP, mnr Andries Breytenbach, het reeds namens die Boere-Afrikaner Volksraad teen die beoogde vergadering beswaar aangeteken.

LJ van der Schyff

Hoofsekretaris

22 April 2014