Vlugopnemer-sein is weg

Die soektog na die vermiste Maleisiese Boeing van vlug MH370 het met teleurstelling rapporteer dat die sein wat voorheen ontvang is, skielik nie meer opgevang word nie, wat daarop kan dui dat die battery pap geword het.

Lugvaart kenners meen die moontlikheid bestaan ook dat die sein wat vroeër opgevang is, nie die sein van die Boeing se swartboks is nie, maar iets anders.

Die skepe wat nog steeds soek, sal egter nog vir ’n paar dae bly soek, waarna ’n duikboot na die gebied gestuur sal word vanaf Perth in Australië.

Dit is reeds ’n maand nadat die vliegtuig spoorloos verdwyn het, en soekspanne vrugteloos met vliegtuie en skepe probeer het om die vermiste tuig op te spoor.

Die seine wat deur ’n Australiese vlootskip opgevang is, het die hoop laat opvlam dat die soektog sy einde nader en die vermiste tuig opgespoor sou word.

Angus Houston wat aan die hoof van die soektog staan, het bekend gemaak dat daar nog steeds gesoek gaan word na die tuig, te midde daarvan dat die sein nie meer opgevang word nie.

Foto – Deel van die soekspan