Verlore Boeing dalk opgespoor

Die weke lange soektog na die vermiste Boeing van Malaysian Airlines is moontlik na aan die einde nadat seine opgetel is wat ooreenstem met die Boeing se vlugopnemer, of moontlik die “swart boks”.

Volgens die hoof koördineerder van die soektog, Angus Houston, is die sein wat opgetel word, die mees belowende aanduiding wat tot nog toe gevind is om die Boeing op te spoor.

Dit kan egter nog dae lank wees voordat die vliegtuig se wrak opgespoor word, maar alles dui daarop dat dit binne enkele dae kan wees.

Op hierdie stadium is dit moeilik om te sê of die seine wel afkomstig is van die vermiste vliegtuig, maar kenners meen egter dat daar geen besonderhede vrygestel is van enige ander tuig wat in die gebied neergestort het nie, wat die moontlikheid versterk dat dit wel die Boeing se seine is wat opgespoor is.