Verdere spanning oor Nkandla

Tussen Verdedigingsinligting (VI), voorheen militêre inligting), en die Staatsveiligheidsagentskap heers ‘n gespanne situasie omdat VI nie betrek is om Nkandla tot ‘n nasionale sleutelpunt te verklaar nie.

VI het glo 18 maande gelede kapsie gemaak omdat hy nie in die proses geken is nie ondanks die feit dat die Wet op Nasionale Sleutelpunte dit vereis.

Die wet vereis dat VI die risiko-ontleding doen van enige bedreigings vir landsbelang, voor ’n instelling of ’n gebou tot ’n sleutelpunt verklaar word.

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het ook bevind dat die polisie nie aan die wet se vereistes voldoen het nie. Die VI kan bepaalde veilig­heidsmaat­reëls afdwing.

Niks hiervan het in die geval van Nkandla gebeur nie, wat die optrede dus onwettig maak. Volgens een bron gaan dié toedrag van sake ’n onhoudbare situasie skep wanneer pres. Jacob Zuma nie meer president is nie.

Dit lyk nou asof dar ‘n presedent geskep is, want indien Nkandla onwettig tot sleutelpunt verklaar is, wie gaan dit deklassifiseer as Zuma se termyn verby is?

En nou wil kenners weet of regeringsdepartemente na willekeur die wet gaan buig soos dit hulle pas?

Boonop is dit nou die tweede keer die afgelope jaar waar daar blykbaar buite die Departement van Verdediging besluit is wat sleutelpunte is en wat nie, word gesê.

Verlede jaar het die interministeriële taakspan wat die Gupta-landing op die Waterkloof-lugmagbasis ondersoek het, verklaar dat die basis nie ’n nasionale sleutelpunt is nie.

Gewoonlik is alle militêre basisse outomaties sleutelpunte. In die verlede kon die minister van verdediging self besluit het om bepaalde instellings tot sleutelpunte te verklaar. Die minister kon selfs veiligheidsmaatreëls voorskryf en dit vir die koste van die eienaar afdwing.

Die huidige wet dateer van 1980 en is nie ná die 1994-verkiesing aangepas nie.

Die weermag se Raad van Ondersoek (RvO) na Nkandla moet Donderdag klaar wees. Genl. Solly Shoke het gesê die ondersoek, wat in Januarie vanjaar van stapel gestuur is, moes eintlik al klaar gewees het.  Lt.genl. Vusi Masondo, hoof van die leër, is die president van die RvO.