Van Riebeeck se gebed

Toe van Riebeeck aan wal gaan in Tafelbaai en met sy werksaamhede alhier begin, begin hy dit met die volgende gebed:

Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur.

Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader, dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in watter mate ook al op eie voordeel of winsbejag

let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat  in die hemel is, … Amen [1]

Ofskoon hierdie ´n vorm-gebed was, voorgeskryf deur die VOC, en vermoedelik ook as roetine gebid is hier en elders waar die VOC se belange deur amptenare behartig is, spreek tot nogtans duidelik van die Calvinistiese ingesteldheid dat elke lewensterrein en elke handeling hier moet spreek van ons Christelik-protestantse lewensbeskouing.

Nie net dra dit alle werk in gebed op aan God, in die afsmeek van Sy seën daarop nie, maar die gebed spreek ook van ´n wyer roepingsbesef, nederige afhanklikheid en dankbetuiging. Hierdie elemente sou soos ´n goue draad ook in die 1654-gelofte en latere Gelofte van Bloedrivier weer beslag vind.

Die belangrikheid van gebed, nie net as religieuse handeling nie, maar elke dag en in alles wat ons doen, is ´n les wat die Afrikaner dalk in 2014 weer opnuut ter harte moet neem. Maar meer nog hoe sentraal die eer van God moet staan ook in die handel en wandel van ons alledaagse lewe.

Doen ons nog werklik alles tot eer van God, eerder as bloot ons eie voordeel?

Hierdie gesindheid en lewensbeskouing het ook in die inrig van sake in die Kaap en die getroue godsdiensoefening aldaar beslag gevind. Die getroue kerkgang wat tot onlangse jare kenmerkend van die Afrikaner was, is netso van hierdie voorsate oorgeneem.

Ons kan verder aanvaar dat ook die persoonlike- en huisgodsdiens nie versaak is nie, want dit was kenmerkend later op trek dat ons Voortrekker-voorsate by uitstek hulle trek ook as geloofsdaad gesien, en as sulks daagliks aan God opgedra het.

Uiteindelik sou hierdie geloofswortel ook die Strafkommando in staat stel om vanaf 9 Desember 1838 met geloof en vertroue nie net hul eie en hul gesinne se voortbestaan in die hand van God te plaas nie, maar ook dié van ons volk.

Daar kan dus sonder vrees vir teenspraak gesê word dat daardie geloofs-saad wat op 6 April 1652 ook hier geplant is, integraal deel was van ons volksidentiteit uit die staanspoor, en dit steeds is. Daarom kan ons beslis nie van ons suiwer geloofs-gebondenheid afstand doen, of sekere dele van ons lewe daarvan uitsluit nie.

Joffré Papenfus

[1] Die teks is wat die mees algemeen voorkom en mag verskil van ander bronne.