Van Riebeeck se gebed

Twee jaar na hul vestiging alhier, op 6 April 1654, herdenk die nedersetters aan die Kaap twee jaar se werksaamhede, weliswaar met gemengde sukses.

“Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die HERE gelei, met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters (Here XVII – die Direkteure van die VOC) te bou en te bestendig, en opgelet dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ´n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot

eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.” [1]

Hierdie gelofte en herdenkingsgedagte van Van Riebeeck skakel nie net baie nou met die gebed nie, maar was ook sprekend van ´n lewende geloofsvertroue.

Van belang vir ons in 2014 is die onderneming om “ ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.”

Is ons hieraan getrou?

Ons het in die ander kort stukke gesien tot hoe groot mate ons volksidentiteit, soos uitgedruk in ons geloofs-aard, lewensbeskouing, kultuur, taal en herkoms, saamhang met die nedersetting wat op 6 April 1652 aan die Kaap gevestig is. Uit daardie eerste Vryburgers en latere Trekboere ontwikkel die Boere-Afrikaner oor die daaropvolgende byna 200 jaar, wat vanaf die 1840’s ook die binneland ontwikkel en opbou.

In 2014 is ons deur sowel meer as 360 jaar se tydverloop, as eiesoortige ontwikkeling van ons stamlande en daardie volke verwyder, en die Afrikaner het baie langer langs meer behoudende pad ontwikkel, veral in onlangse dekades, maar so min as wat ons, ons identiteit van die volksplanting kan losmaak, kan ons, ons losmaak van die gelofte op 6 April 1654. ´n Geloftevolk wat 16 Desember in stand hou en aanspraak maak op die vryheidstrewe van sy voorsate moet ál die geloftes en ondernemings van daardie voorsate in ere hou.

6 April 1652 was ons volksplanting, maar deur die daaropvolgende 362 jaar se volkswording en -groei bly dit steeds sentraal in ons volksgeskiedenis, aangesien (menslik gesproke) daar sonder 6 April 1652 moontlik nie die Afrikanerbeskawing

in Suidelike Afrika sou ontwikkel het, soos die geval was nie.

Nie net is dit ´n bron van trots nie, maar soos bewoord deur Jan van Riebeeck moet dit ook dien om ons aan te spoor tot dankbaarheid en eerbetoon aan God, wat dit sodanig beskik het.

 

Joffré Papenfus

 

[1]  Vry vertaalde, algemene teks, wat van ander bronne mag verskil