Universiteit se mediese fakulteit stort in duie

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se mediese fakulteit is besig om in duie te stort. Die situasie is so erg dat tegnies gesproke kan daar nie meer dokters opgelei word nie want die kardiologie departement het nie genoeg dosente nie.

Die wyse waarop die twee opleidingshospitale in Bloemfontein, die Pelonomi en Universitas bestuur word, word as chaoties en bisarre beskryf.

Skynbaar is daar so ‘n dringende tekort aan basiese mediese toerusting – soos wondgaring, druplyne, chirurgiese maskers en handskoene – dat dit nie meer geskik is vir die opleiding van studente nie.

Rassespanning vier dermate hoogty dat werksomstandighede so ondraaglik is dat senior dokters en spesialiste eerder na ander weivelde soek.

Die kardiologiedepartement kry die swaarste. Die waarnemende departementshoof, prof. Hennie Theron is onlangs geskors omdat ‘n veiligheidswag beweer het dat hy hom gevloek het.

Prof. Theron het die aantyging heftig ontken. Uit protes teen die prof. se skorsing het dr. Gideon Visagie, wat gevra is om in Theron se plek waar te neem, sy voorgenome bedanking vervroeg.

In ’n brief aan die dekaan, prof. Gert van Zyl, en prof. Jonathan Jansen, die rektor, bestempel ­Visagie die skorsing van Theron as oordrewe. 

Hy sê Theron se skorsing beteken pasiëntesorg in die kardiologie-afdeling het tot onaanvaarbaar lae vlakke gedaal en dat dit ernstige gevolge inhou vir die departement se vermoë om dokters en spesialiste op te lei.

Hy skryf dat toe hy dié probleme aan dr. Sehularo Gaele­jwe, uitvoerende hoof van Universitas, uitgewys het, het hy geantwoord hulle moet maar net klaarkom, al kan so ’n besluit pasiënte se lewens kos.

Die departement kardiologie het die afgelope 18 maande vyf personeellede verloor. Die ineenstorting van die kardiologie-departement plaas weens hul interafhanklikheid ook druk op ander departemente en afdelings, soos kardiotoraks-chirurgie en interne geneeskunde. 

Die departement van interne geneeskunde is onder ewe groot druk nadat dr. Kobus Smit, ’n ortopediese chirurg, geskors is omdat hy nie betyds by die bestuur van die Pelonomi-hospitaal toestemming gevra het vir die gebruik van narkotiseurs wat nie aan die hospitaal verbonde is nie. 

Sy skorsing beteken dat die staat geen pediatriese ortopeed in diens het in die Vrystaat, Noord- of Oos-Kaap nie.

Nog ’n dosent by interne geneeskunde, prof. Vernon Louw, is skriftelik gewaarsku omdat hy glo spoedlyste en roosters van die Universitas-hospitaal in Afrikaans opgestel het, terwyl die amptelike gebruikstaal Engels is.

Die gebeure het prof. André Claassen, waarnemende hoof van die skool van medisyne in die fakulteit van gesondheids­wetenskappe, vroeër die maand genoop om ’n brief aan dosente te skryf om hulle tot kalmte te maan. 

Hy sê personeellede is ontsteld oor die wyse waarop senior kollegas om elke draai en hoek verneder word. Volgens hom is die uitvoerende hoof se optrede onaanvaarbaar en sal dit nie langer geduld word nie.

Daarom moedig hy personeellede aan om hul regte deur regs­kanale en deur professionele verenigings te verdedig, maar maan hulle om terselfdertyd kalm te bly.

Professore en mediese personeellede sê die manier waarop hulle behandel word, is maar net deel van die probleem. ’n Akute tekort aan lewensnoodsaaklike toerusting is ’n ander.

In Universitas is daar net een werkende gastroskoop (waarmee ondersoeke van die maag gedoen word) en die enigste kolonoskoop (waarmee die derms ondersoek word) is stukkend.

By Pelonomi is dit erger. Nadat die stoomketels by die hospitaal gebreek het, kan geen mediese toerusting meer by Pelonomi gesteriliseer word nie en moet dit daagliks na die Universitas-hospitaal, aan die ander kant van die stad, geneem word om gesteriliseer te word.