Twee sterf in vliegtuigongeluk

’n Paartjie wat van die Kaap na Limpopo onderweg was, Louis-John Botha (36) en sy vriendin, Georgina Joubert (23), van Swartwater in Limpopo, is dood toe hul sessitplek-vliegtuig naby Prieska neergestort het.

Die Piper Malibu Mirage, wat in ’n baie bergagtige gedeelte in die Niekerkshoop-omgewing geval het, se wrakstukke het oor ’n gebied van 2km versprei gelê. Die ongeluk het op Stefan Oldewage se plaas Rooisand, sowat 40km noord van Prieska, gebeur.

Volgens Oldewage het sy werkers gehoor die vliegtuig se enjin maak vreemde geluide. Toe staak dit en die vlieënier het blykbaar ’n noodlanding in die bergagtige gebied probeer maak.

Daar is geen selfoonsein in die omgewing nie en die werkers het na die buurplaas gehardloop om hulp te soek. Met sy aankoms was die polisie en die nooddienste reeds daar. Die man en vrou is skynbaar op slag dood. 

Die paartjie het van Kaapstad se internasionale lughawe na Swartwater gevlieg. Die ongeluk word deur Burgerlugvaart ondersoek