Transnet tender aan Denel bevraagteken

Die wysheid van die nuwe bemagtigingstenderkontrak wat aan Denel toegestaan is om helikopterdienste aan Transnet se hawe owerheid te verskaf word nou in sommige kringe bevraagteken.
Volgens bronne het Acher Aviation, die maatskappy wat die diens al tien jaar lank suksesvol verrig, se kontrak in Januarie hierdie jaar verval. Sedertdien was daar geen helikopterdiens beskikbaar om Transnet personeel heen en weer tussen die hawens in Durban en Richarsbaai, en skepe op die oopsee te karwei nie.
Die Burgerlike Lugvaartowerheid het op navraag by monde van Phindiwe Gwebu gesê dat Denel nie oor ‘n Deel 127-lisensie vir die verskaffing van openbare helikopterlugvervoer vir ’n kommersiële diens beskik nie, en dat die owerheid geen inligting rakende vlieënierkwalifikasies, diensbaarheid van die helikopters, of inspeksies vir veiligheid en operasionele vereistes gedoen het nie.
Denel se uitvoerende hoof Mike Kgobe het egter verseker dat Denel se geloofsbriewe internasionaal sowel as plaaslik erken word, en dat Denel onder andere, oor die nodige SABLO, sertifisering beskik.
Volgens dieselfde bron is Acher se vlieëniers al in Januarie afgedank toe die kontrak verstryk het, maar van hulle is egter kort daarna weer by Denel indiens geneem.
Intussen het industrie belanghebbenes soos Dave Watts van die Suid Afrikaanse Vragbeheer Vereniging (SAVBV) in Natal en Peter Besnard van die Suid Afrikaanse Skeepoperateurs- en Agentevereniging (SASOAV) gesê die opskorting van die helikopterdiens kon beter hanteer en gekommunikeer gewees het.
Die bemagtigingooreenkoms sal ook verder Denel verantwoordelik maak vir die opleiding van 17 nuwe loodse oor ‘n tydperk van 5 jaar. Hierdie nuwe TNHO kadette sal dan stelselmatig teen 20% per jaar (oor ‘n vyf jaar periode) die huidige vlieëniers vervang.
Denel is ook gekontrakteer om helikopter-instandhouding te behartig sowel as om loodse tussen die hawens en skepe te karwei. Hulle sal dan ook gedurende die proses, praktiese opleiding aan die nuwe kadette verskaf.
Die waarde van die tender tussen die Transnet Hawe Owerheid (THO) en Denel beloop R65 miljoen.