Terroris se wreedheid in hof erken

Die wrede en barbaarse moorde op die egpaar Johan en Corra Stiglingh op hulle plaas buite Ventersdorp, het nou nuwe besonderhede aan die lig gebring tydens die polisie se ondersoek en in die ondervraging tydens ’n sitting van die rondgaande hof.

Een van die terroriste het aan die polisie gewys waar hulle Johan ingewag het, en hoe hulle hom aan sy voete die huis in gesleep het.

Solomon Mojaki het glo uit vrye wil erken en getuig wat plaasgevind het.

Mojaki het die polisie glo na die plaashuis geneem en gewys waar hy en sy makker ’n piksteel by ’n stoor gekry het voor hulle die huis in is, en waar hulle vir hom gewag het.

Hy het ook gesê hulle het die boer met die piksteel doodgeslaan en het ook die vertrek uitgewys waar hulle Corra verkrag het, waarna sy ook vermoor is.