Stropers aangekeer in Wildtuin

Die stropers se jongste neiging om bendes te vorm en hulle strooptogte voort te sit in die Krugerwildtuin, het ’n aansienlike terugslag gekry toe veldwagters van die bendelede aangekeer het.

Verlede week is bendelede vier dae agtereenvolgens vasgevat deur die veldwagters.

’n Woordvoerder van SanParke, sê twee Zimbabwiese verdagtes is verlede Donderdag by die Krokodilbrug in gevang en beslag gelê op hulle wapens en ammunisie.

Die dag daarna is ’n stroper gevang by die Kingfisherspruit, maar sy makkers het ontvlug.

Saterdag is ’n ander stroper deur veldwagters gevang en is beslag gelê op sy .375-geweer, met ammunisie en ander toerusting. Die makker het egter ontsnap en kon glo daarin slaag om na Mosambiek uit te wyk.

Sondag het die veldwagters by Stolsnek ’n bende van vyf renosterstropers vasgevat.