Speurder pleeg selfmoord in tronk.

‘n Speurder wat op ‘n klag van verkragting in hegtenis geneem is, het homself skynbaar in die polisieselle opgehang. 

PJ Tshabalala, van ’n plaaslike speurtak, is alleen in ‘n enkelsel by die polisiekantoor aangehou omdat hy ‘n polisiebeampte is. Hy is vroeër die dag op ‘n aanklag van verkragting by sy huis in hegtenis geneem. 

Tshabalala se regsverteenwoordiger, Clem Harrington sê hy het omstreeks 15:30 by die polisiekantoor opgedaag om met sy kliënt te konsulteer. Hy was toe reeds dood. 

Tshabalala het glo skoenveters gebruik om homself op te hang en ’n ondersoek is begin om uit te vind hoekom hy skoenveters by hom gehad het.

Hy het hom glo aan die seldeur opgehang.  

Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval sal deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word. Volgens prosedures moet polisiebeamptes eers die selle beveilig voordat mense daarin aangehou word. Die beamptes moet ook seker maak aangehoudenes het nie enigiets by hulle wat hulle kan beseer nie. Harrington sê Tshabalala se eie skoene het sonder veters in die sel gestaan.