Seun doodgery deur verkeerspolisie

Die Onder-hoofseun van Hoërskool Pretoria-Noord, Rudi Lettau (17) is dood toe ’n ampsmotor hom van agter getref het toe hy vir oefening van die huis gery het na Britsweg.

Rudi se pa, Klaus het begin bekommerd raak toe hy teen 17:30 nog steeds nie terug was van sy gereelde oefening nie, maar aanvaar hy het dalk ’n pap band opgedoen.

Hy het Rudi probeer skakel, maar geen antwoord gekry nie, wat hom meer bekommerd gemaak het en het toe gaan ondersoek instel.

Die polisie het hom ingelig daar was ’n fietsongeluk en Klaus het die ergste gevrees. Kort daarna het hy sy seun se lewelose liggaam uitgeken.

’n Saak van strafbare manslag word teen die betrokke polisiebeampte gemaak.

Die beampte het glo in ’n verklaring erken dat hy teen sowat 100 km per uur gery het.

Rudi word Vrydag ter aarde bestel.