Serebraal gestremde kry graad.

Tanya Groenewald (29) is met haar geboorte ‘n geringe kans gegee om te leef. Trouens die dokters het gemeen dat sy net 48 uur sou leef aangesien sy 11 weke te vroeg gebore is.

Tydens Unisa se gradeplegtigheid verlede week het sy die BEd-graad by Unisa ontvang. 

Groenewald wat tans in Middelburg woon is van die middel af ondertoe verlam en kan haar hande net gedeeltelik gebruik. Verstandelik staan sy vir niemand terug nie en is reeds besig om vir haar honneursgraad te studeer. 

Sy het aan die Meerhof-skool gematrikuleer en het aanvanklik vir ‘n LLB-graad ingeskryf. Sy was nie gelukkig met haar keuse en het oorgeslaan na ‘n onderwyskwalifikasie. Dit het haar sewe jaar geneem om die graad te voltooi. 

Nie net het sy die dokters se voorspelling dat sy net 48 uur sou leef, verkeerd bewys nie, maar ook hulle prognose dat indien sy dit sou maak, sy ‘n koolkop sou wees. 

Sy het geen kontak met haar ouers wat geskei is toe sy twee jaar oud was nie. Haar oupa, Koos Groenewald het haar grootgemaak, maar hy is op die dag wat sy haar laaste vak geskryf het, oorlede. Haar goeie vriend en inspirasie, die Afrikaanse sanger, Manuel Escorcio, het die gradeplegtigheid bygewoon. 

Sy liedjie "Donkerbruin oë" was die eerste musiek waarop sy as baba gereageer het. Escorcio het gesê dat hy haar deursettingsvermoë bewonder en dat min haar dít sal kan nadoen. 

Maar Groenewald is nugter oor die lewe en weet  "hef aan" lê nog voor. Sy besef dat sy gaan sukkel om werk te kry aangesien die meeste skole nie rolstoel-vriendelik is nie. 

‘n Familielid, Chris Roos, het gesê haar prestasie is ’n groot sege vir inklusiewe onderwys omdat dit druk sal plaas op die stelsel om skole meer toeganklik vir gestremdes te maak.