Sassa deur OB ondersoek

Berigte dui daarop dat die Openbare Beskermer (OB) ’n ondersoek doen na die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa) na aanleiding van beweerde gekonkel met tender prosedures.

Na wat verneem word, is R10 miljoen aan sogenaamde BBP-beskerming bestee vir sy Uitvoerende Hoof.

’n Engelstalige koerant berig dat Sassa die veiligheidsmaatskappy Vuco aangestel het sonder om die korrekte tender prosedures te volg vir klaarblyklike beskerming van Virginia Petersen, die Sassa-hoof, en Lumka Oliphant, van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

Oliphant het glo beweer dat Petersen lyfwagte nodig gekry het omdat sy probeer om korrupsie te bekamp.

Ingeligte waarnemers meen egter die bedrag kon sowat 2,500 kinders se jaarlikse toelaes betaal het, en daarom is dit nodig dat die OB ’n behoorlike ondersoek doen.

Die indruk word gelaat dat daar eerder ’n magsvertoon is, en kan in ’n ondersoek dalk bevind word dat nog ’n korrupsie skandaal gepleeg is eerder as wat  korrupsie bekamp is.

Kenners is skepties oor die optrede van Petersen, wat in 2009 onder ’n wolk moes uit by die provinsiale regering.