SARK glo bekommerd oor godsdiensmisbruik

Ewe skielik is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ongelukkig oor politieke partye wat kerkdienste gebruik om hul politieke ideologieë aan Christene te verkondig.

Eerw. Mautji Pataki, hoofsekretaris van die SARK, het gereageer op politieke leiers wat die Paasnaweek kerke landwyd besoek het as deel van hul party se verkiesingsveldtog. Beide Helen Zille, en adj.pres. Kgalema Motlanthe was by die ZCC-kerk se Paasdiens in Moria, Limpopo.

Om nie agterweë te bly nie was Mmusi Maimane, Zille se premierskandidaat, by die Believers-sentrum in Orlando, Soweto, terwyl Cyril Ramaphosa, ANC-adjunkpresident, die Paasdiens van dieTyrannus- Apostoliese kerk in De Deur bygewoon het.

Pres. Jacob Zuma het verlede Vrydag die Universal Church of the Kingdom of God se Paasdiens in die Ellispark-stadion in Johannesburg bygewoon.

Pataki het gesê die SARK wil hê kerkgangers se fokus in kerke moet onverdeeld wees en dat hulle na God se stem moet luister.

Maar by monde van Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk het hy weer politiek na die kerk gebring toe hy tydens die Paasdiens in Kaapstad lidmate gevra het om met hul gewete, in plaas van vrees en blinde lojaliteit, te stem.

Hy het gesê niks keer mense om hul stembrief te bederf nie. Zuma het op sy beurt gesê kerke se rol is om die samelewing te normaliseer. Volgens hom is dit die rede waarom kerke uitgesproke was teen apartheid omdat Suid-Afrika toe nie normaal was nie.

Supra Mahumapelo, ANC-leier in Noordwes, het in ’n ope brief eergister geskryf kerke het ’n betekenisvolle rol gespeel in die struggle om vryheid in Suid-Afrika en dat die ANC daarom kerke sal bly insluit by sy aktiwiteite en programme.

Foto – Mautji Pataki van SARK