Rustenburg sink ekonomies

Die Wes-Transvaalse dorp, wat voorheen ’n toonbeeld van vooruitgang was, is besig om ekonomies in duie te stort, en kan binnekort spookdorp-status kry as die mynbou-stakings gaan voortduur.

Meer as 80,000 mynwerkers is sedert middel Januarie in ’n staking betrokke, wat die ekonomiese agteruitgang van Rustenburg veroorsaak, en wat nog geen moontlikheid in die vooruitsig het dat die omstandighede gaan verbeter nie.

Lede van die Amcu- Lonmin-, Impala Platinum- en Anglo American Platinum myne staak omdat hulle eis dat hulle salarisse na R12,500 per maand verhoog word deur die mynhuise.

Mynhuise daarenteen sê hulle sal eerder hul deur sluit, want R12,500 per werker is nie bekostigbaar nie.

’n Woordvoerder van die sakekamer sê daar was altyd 35 voedingskemas, maar nou het dit gegroei tot byna 180 skemas.

Daar is talle ondernemings wat direk met die myne sake doen, en ingestel is op voorsiening van toerusting en dienste aan myne, wat nou hulle deure moet sluit.

Die straatsmouse het die een na die ander opgehou bestaan, en talle ondernemings moes werkers verminder in ’n poging om te probeer oorleef.

’n Vervoermaatskappy, wat verhuisings hanteer vir die myn, sê hy moet die 55-jarige onderneming wat in die familie gebly het, se deure moet toemaak as daar nie gou ’n verbetering in die situasie kom nie.

Een van die bekende vulstasies se eienaar sê hy verkoop deesdae tot 220,000 liter brandstof minder as gevolg van die staking, en sy winkel-afdeling het ’n afname van R600,000 getoon.

’n Werkswinkel eienaar sê hulle het die werksure verminder tot 5 uur per dag, en die vergoeding dienooreenkomstig aangepas in ’n poging om te oorleef.

Morné van der Westhuizen, wat aan die hoof is van ’n onderneming met tweedehandse voorraad sê hy koop al meer goedere, en verkoop ook meer, want mense het nie geld om nuwe goedere te koop nie, en verpand besittings om kos te koop..

Johan de Klerk, lid van Rustenburg se polisiëringsforum, sê die staking het misdaad die hoogte ingejaag want mense wend hulle daartoe in ’n poging om te oorleef.

Mnr. Tommie Ferreira (54), ’n man wat jare lank ’n mynwerker is by Impala Platinum, sê hy het in Januarie die laaste salaris ontvang, en het al sy yskas, vrieskas, Tv en sitkamerstel verkoop om kos te koop.

Hy sê hy wou nog goed verkoop, maar niemand wil dit hè nie, en sy onbetaalde bakkie is deur die bank terug geneem.

Ontleders sê die staking by die platinummyn is die langste staking wat Rustenburg beleef het in die afgelope 40 jaar, en het reeds meer as ’n miljoen onse platinum produksie verloor wat beteken dat R14 miljard se omset verlore is.

Die 80,000 werkers het in die afgelope byna drie maande reeds sowat R6 miljard verloor aan inkomste, wat ook die negatiewe uitwerking op Rustenburg meebring.

Na bewering sal die staking daarvoor verantwoordelik wees dat die land se groeikoers met byna 1% kan verminder as dit nog drie maande sou sloer.

Kenners is van oordeel dat die staking moontlik binnekort beëindig kan word aangesien die onderhandelings tussen mynhuise en die stakende vakbonde hervat word..