Rusland versnel sy nuwe geldeenheid.

Verskeie nuusagentskappe in Rusland berig dat Rusland, Kasakstan en Belarus wat tans die Eurasiese doeane-unie vorm, volgende maand ‘n ooreenkoms sal teken wat die stigting van ‘n ekonomiese unie met ‘n gesamentlike geldeenheid, die Altyn tot gevolg sal hê.

Rusland se ekonomie is agt keer kleiner as dié van die VSA, maar die stigting van ‘n nuwe ekonomiese groep wat bo-op ryk ondergrondse stowwe sit, sal kwaai kompetisie vir die Amerikaanse petrodollar wees.

Rusland praat nou openlik daarvan dat hulle van die dollar as handelsmiddel wil ontslae raak. Die beplanning is om energie- en gasverkope met hulle ander vennoot, Sjina, in ‘n ander geldeenheid te verhandel.

Hierdie Eurasiese Ekonomiese Unie mag ‘n magtige steek in die heersende dollargemeenskap veroorsaak.

Die VSA opponeer die doeane-unie en sê dit is net nog ‘n poging om ‘n Russies gedomineerde hereniging onder vorige Sowjetstate te bewerkstellig.

Dokumente van die Eurasiese Ekonomiese Komitee bevestig die totstandkoming van die Eurasiese Ekonomiese Unie.

Kyrgyzstan, Armenië en Tajikistan mag ook tot die nuwe finansiële en ekonomiese organisasie toetree.

Tans is die drie lidlande op stap 3 van hulle integrasieproses. Die beplanning is om stap IV teen die einde van 2015 te bereik.

Poetin veral is gretig om die transaksie af te handel en saam met sy bondgenote van die petrodollar weg te stap.