Regter betig polisie

Kolonel Kobus Roos moet deur die SAPD vergoed word met minstens R156,000 weens die feit dat daar teen hom gediskrimineer is en hy selfs verplaas is na ’n kantoor waar daar geen werk vir hom is nie.

Regter Robert Lagrange sê hy vind dit uiters ontstellend dat die polisie nie ’n vinger verroer het om Roos te help wat eensydig deur Lt. genl. Richard Mdluli uit sy pos verplaas is omdat hy korrupsie en bedrog uitgewys het.

Die regter het daarop gewys dat Kol. Roos onbehoorlik behandel is, en dat die polisie te midde van ’n oudit op ’n fonds, steeds nie sy posisie wou toelaat nie, en dit telkens in die howe probeer teenstaan.

Volgens regter Lagrange was dit merkwaardig dat die polisie eers op die nippertjie besluit het om nie die meriete van Roos se eis te betwis nie.

Roos wat herhaaldelike kere korrupsie en bedrog uitgewys het, is deur seniors in die polisiediens met kwaadwillige optrede belemmer.

Lagrange het ook bevind dat Roos deurentyd sy bevelvoerders se opdragte uitgevoer het, ten spyte daarvan dat hy doelbewus verhinder is om bedrog en korrupsie op die lappe te bring.

Die regter het ook bevind dat Kol. Roos voorkeur moet kry indien hy aansoek sou doen om ’n ander pos of om na die rang Brigadier bevorder te word.

Kol. Roos het na afloop van die saak gesê hy is verheug oor die uitspraak, maar hy wil maar net geleentheid kry om sy werk te doen.