Regering saboteer renoster-bewaring.

John Hume, ’n gesiene renosterboer en bewaarder van dié bedreigde spesie in Suid-Afrika sukkel al langer as ses maande met Wes-Transvaalse Departement van Omgewingsake om ’n permit te kry om renosters vir bewaringsdoeleindes na sy plaas te skuif. 

Hume, die eienaar van ’n reeks plase buite Klerksdorp waar sowat 1,000 renosters bewaar word, meen die provinsie se regering belemmer die bewaring van renosters deur hom te verhoed om renosters van omliggende plase wat deur stropers bedreig word, na syne te verskuif. 

Isak du Toit, Hume se regsvertenwoordiger het gesê dat daar baie boere in die omgewing is wat onder stropery deurloop, maar omdat Hume ‘n klein weermag op sy plaas het word hy dikwels deur ander boere gevra om hulle renosters oor te neem omdat hulle nie oor soortgelyke fasiliteite beskik nie. 

Hoewel Hume sedert 2009 ’n staande permit het om renosters te besit en met hulle te teel, moet hy elke keer wanneer renosters van een plaas na ’n ander verskuif word, weer aansoek doen vir ’n bykomende permit.

Maar die afgelope paar maande weier die Wes-Transvaalse departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsbewaring en Toerisme om die permitte uit te reik as John renosters wil koop, het Du Toit gesê.

Uit moedeloosheid is Hume  in Oktober verlede jaar hof toe. Die regter het in sy guns bevind en die departement beveel om die nodige permitte uit te reik. Maar in Januarie vanjaar herhaal die gebeure weer toe John vier renosters wou oorkoop. Hulle het vir ’n derde keer in Februarie aansoek gedoen, maar steeds is die permitte geweier. 

Du Toit sê hulle verstaan dit nie aangesien die regering veronderstel is om die bewaring van renosters te steun en nie te saboteer nie.