Protesteerders laat VSA regering swig

Die gespanne toestand tussen protesteerders en die polisie in die Nevadawoestyn, (VSA) is beëindig toe die regeringsamptenare geforseer is om terug te staan en nie voort te gaan om die vee van ‘n boer te skut nie. 

Die stryd tussen die boer, Cliven Bundy en die VSA se Buro vir Grondbestuur (BLM), het meer as ‘n week geduur, maar die stryd tussen hierdie Dawid en Goliat duur al langer as twintig jaar.

Die BLM, ondersteun deur die FBI het ingevolge ‘n hofbevel opgetree en wou begin om die boer se bykans 1,000 stuks vee te skut. Die regering beweer dat Bundy se diere op federale grond wei. 

Hierdie optrede het woede in die anti-regeringsgroeperinge en politici veroorsaak wat naby die 67- jaar oue Cliven Bundy se plaasopstal begin vergader het om hom te ondersteun en te beskerm.

Ongeveer 1,000 ondersteuners van so ver as Kalifornië, Idaho en ander state het geklee in kamoefleerdrag en gewapen met swaar wapens begin vergader.

"As ons nie hier opdaag en wys wie ons is nie, sal ons ook nie op ander plekke opdaag nie," het een ondersteuner met ‘n AR-15 geweer gesê. "As iemand na my skiet, sal ek  terugskiet."

Bundy self het gesê dat hy opgewonde is oor die feit dat hulle nou vir hulle vryheid kan veg.

Die BLM het in ‘n verklaring gesê dat hulle besluit het om terug te staan, omdat hulle bekommerd was oor die mense se veiligheid. Hulle beoog wel om die geveg deur die hof voort te sit.

Bundy se dogter, Shiree, het die hele probleem kortliks opgesom. Volgens haar het haar groot-oupa die regte tot die grond in 1887 gekoop. Daarna is dit aan haar oupa verkoop wat dit in 1972 na haar pa oorgedra het. Haar voorgeslag het nie net die regte gekoop nie, maar damme, heinings en paaie met hulle eie geld gebou.

Iewers het die BLM begin betrokke raak om te sorg dat die grond nie oorbewei word nie. Die veronderstelling was dat hulle bystand aan die boere sou verleen teen ‘n fooi wat die amptenary se salarisse sou betaal.

Vir jare het Bundy sy fooie aan die BLM betaal, sonder dat hulle enige bydra tot die verbeteringe op sy grond gelewer het. Die BLM het die geld wat hulle ontvang het gebruik om sy bure se grond te koop. ‘n Belaglike aanbod aan Bundy het gemaak dat hy nie net nee dankie gesê het nie, maar hulle van sy grond verbied het en opgehou het om hulle te betaal.

Vervolgens het die BLM hom van die grond probeer afkry deur die ontdekking van ‘n bedreigde spesie skilpaaie wat daar gevind word. Toe dit ook nie gewerk het nie, het die hofsake begin, hoewel alles wat hulle doen onwettig is in terme van die Grondwet.

Nou is hulle besig om sy vee te steel. Sy kudde is vir meer as 100 jaar deel van die plaas, lank voordat daar ‘n BLM was. Maar die Federale regering reken dat hulle dit onwettig kan verwyder en verkoop sonder sy toestemming. Hulle beplan om die vee onwettig oor twee grense te neem en dit dan in Richfield op ‘n veiling te verkoop.

Hoewel niemand die vrede vertrou nie, kan die belangrikheid van die gebeurtenis ook nie onderskat word nie. Die eerste groot ritseling van rebelsheid onder ‘n volk wat weier om verder onderdruk te word is ervaar. Die 1,000 wat opgedaag het, het ‘n sein gegee dat openlike tirannie nie deur ‘n vrye volk verduur sal word nie.

Dit is nie ‘n slag vir die regering nie, maar hulle moes daarvan kennis geneem het dat hulle ‘n klap in die gesig gekry het. Net dit, niks minder en niks meer nie. Maar hulle weet nie hoe groot gaan die groep wees wat nou die volgende keer teen hulle gaan optrek nie.

Cliven Bundy het in ‘n onderhoud gesê dat hy geloof het in die Amerikaanse vryheidsdrang en in die mense. Daarom het hy geweet dat hulle sou opdaag om hom te help. Hy was reg om dit te glo, want hulle het opgedaag.

Hierdie mag nie die skoot gewees het wat rondom die aarde getrek het soos die knal in Serajevo wat die Eerste Wêreldoorlog tot gevolg gehad het nie, maar duidelik is daar tekens dat mense besig is om te ontwaak en op te staan.