Pretorianers deur Mosambiek-polisie besteel

Dit blyk dat die polisie in Mosambiek nie veel verskil van sekeres in Suid-Afrika nie, en dat die wantroue teenoor polisie aldaar aan die toeneem is.

Dit is die waarneming van ’n gereelde besoeker aan die buurstaat, wat egter besluit het om ontslae te raak van sy eiendom in dié land waar gewelddadigheid besig is om dramaties toe te neem.

Mnr. Jan Brand (59) en Annetjie Zeiler (58) is onlangs op pad na die Xai-Xai vakansieoord toe hulle deur twee polisiebeamptes en ’n weermag soldaat, toegerus met ’n outomatiese geweer, aangehou en beroof is van hulle kontant.

Die polisie het hulle gevra om af te trek van die pad, en skielik het een beweer dat hulle oor sy voet gery het.

Na ’n hewige woordewisseling het hulle dokumente, die paartjie se beurse en Jan se selfoon afgevat.

R1,700 kontant is uit Jan se beurs gesteel.

Die drie het daarna sowat R3,500 skadevergoeding geëis omdat daar oor een se voet gery is en het op hulle paspoorte beslag gelê.

Zeiler het gemaak asof sy met iemand op haar foon praat wat met senior polisie kontak het. Sy het hard gepraat en gedurig “gevra” of daar met die polisiekommissaris kontak gemaak is. Dit het die rowers verbouereerd gemaak, wat gemaak het dat die reisdokumente in die voertuig terug gegooi is, en hulle beveel het om te ry.

Maar die geld is gesteel.