Polisiebeampte deur kollega doodgeskiet

Adjudant Steven Britz was beslis ons beste polisiebeampte, en ons het nog nooit een soos hy gehad nie, en sal moeilik weer so iemand in sy plek kry, want hy was ’n baie besondere mens,” het Kaptein Faith de Klerk van die Klapmuts-polisiestasie gesê.

Britz was vir 22 jaar lank ’n polisieman wat in die laaste 11 jaar by Klapmuts diens gedoen het, maar is verlede week in ’n rooftog deur boewe doodgeskiet.

Blykbaar het hy alleen diens gedoen toe die aanvallers hulle soos mense voorgedoen het wat ’n klag kom lê.

Volgens De Klerk was Britz saggeaard en nederig en het hy almal, klaer en selfs verdagtes, met respek behandel.

Later is vasgestel dat een van die Klapmuts polisiestasie se speurders moontlik die moordenaar was. Hy het saam met ’n aantal ander misdadigers opgedaag by die polisiestasie en een van hulle het Britz geskiet.

Die speurder-konstabel se vingerafdrukke is op die toneel gevind, en hy is later in hegtenis geneem.

“Ons het nie ’n polisiebeampte verloor nie, ons het ons beste een verloor.”

Britz word deur sy vrou, Leë-Anne en twee tienerseuns, Michael en Matthew, oorleef.