Polisie se brutaliteit duur voort

Slegs ’n enkele dag nadat ’n polisiebeampte in Viljoenskroon se landdroshof skuldig bevind is vir die aanranding van ’n vrou, is nog drie ander polisiebeamptes van die dorp in hegtenis geneem.

Die polisiebeampte, sers. Ishmael Mokhotu (36) is deur landdros Attie Barnard tot R3,000 of ses maande tronkstraf gevonnis, wat voorwaardelik opgeskort is.

Hy is skuldig bevind dat hy Linda de Beer van Viljoenskroon in die polisiekantoor aangerand het met die opset om haar ernstig te beseer.

Die volgende dag is konst. Teboho Maribe, konst. Stefaans Pieterse en konst. Frances Selialia op aanklag van beweerde korrupsie in hegtenis geneem, en al drie is op borgtog van R500 elk vrygelaat.

Hulle sal weer in Mei in die hof verskyn.

Selialia is voorheen aangekla vir brandstof diefstal uit polisie voertuie, maar dié saak is nog onafgehandel.

’n Dame het na die polisiekantoor gegaan om vas te stel waarom haar familielede so lank draai by die aanklagte kantoor. Twee polisiebeamptes was blykbaar doelloos in die kantoor, en die dame het navraag probeer doen, sonder resultate. Toe sy nader aan een stap om sy naamplaatjie te lees, het hy haar in die gesig geslaan.

Daarna het drie polisiebeamptes haar by die aanklagkantoor se deur uitgegooi sodat sy erg beseer is met die harde val buite die gebou.

Dié saak word glo deur die Onafhanklike Polisie-ondersoek direktoraat hanteer.

Die saak teen Maribe, Pieters en Selialia word egter deur die Valke ondersoek.

Al drie het reeds vlugtig in die hof verskyn.