Polisie maak ape van hulself

 ‘n Appélregter het die polisie en omgewingsbewaarders die kop gewas oor ‘n burokratiese magsvertoon wat volgens hom sterk herinner het aan ‘n Amerikaanse polisiedrama in plaas van ‘n dispuut oor die versorg van ‘n bobbejaan.

Die dispuut handel oor dr. Colin Macrae en sy vrou, Theony wat die eienaars is van die Horseback Africa Lodge buite Cullinan.

Regter Malcolm Wallis het namens ‘n volbank van die appélhof in Bloemfontein ‘n skuldigbevinding van dwarsboming van die gereg en diefstal ter syde gestel. Daarmee is ‘n einde gebring aan ‘n regstryd wat oor sewe en ‘n half jaar tot groot emosionele koste vir die egpaar en aansienlike koste vir die belastingbetaler deur drie howe gevoer is, het Wallis gesê.

Die hele sage het in 2006 begin toe twee bewakingsbeamptes in Hammanskraal buite Pretoria op ’n bobbejaan beslag gelê het.

Hulle het die Macraes, wat hulle eie dieretuin het, gevra of hulle ‘n maat vir hul mak bobbejaan, Jessica wou hê. Die egpaar het ingestem en die bobbejaan wat hulle Warren gedoop het, in ontvangs geneem.

Die volgende dag het die twee beamptes se lynbestuurder opgedaag en gesê daar was ‘n fout en dat hy Warren weer kom haal. Die Macraes het geweier om hom te oorhandig.

In Oktober is die beamptes, vergesel van ‘n veearts en drie polisielede terug om die bobbejaan te kom haal. Dr. Macrae het geweier en gesê hulle is sonder ‘n lasbrief op sy perseel.

Dr. Macrae is vir dwarsboming van die gereg in hegtenis geneem. Om haar man te help het mev. Macrae die polisie se motorsleutel uit die aansitter gepluk, waarvoor sy ook gearresteer is.

Wallis het bevind die twee het nie ‘n regverdige verhoor in die landdroshof in Cullinan gehad waar hulle hul eie verdediging behartig het nie.

Daar is geen regulasies voorgehou op grond waarvan die owerhede kon dink die bobbejaan is die owerhede se eiendom nie. Die Macraes se weiering om Warren te oorhandig het in goedertrou geskied.

Volgens Wallis was dr. Macrae geregtig om aan te dring op ‘n lasbrief en sy inhegtenisname was onregmatig. Hy sê dit is besonder ironies dat Warren by ‘n skuiling doodgebrand het nadat hy uit die egpaar se sorg verwyder is.