Polisie dans rond oor betogers

Woedende betogers is deur die polisie voorgekeer toe hulle op pad was vanaf ’n plakkerskamp na Bloemhof om hulle griewe te lug.

Polisiebeamptes het glo hulle hande vol gehad om die betogers te keer dat hulle nie die dorp in vaar en skade berokken nie, want die gemeenskap het toe reeds ’n voorsmakie gehad van die betogers se vernielsugtigheid met die afbrand van  geboue.

’n Polisiewoordvoerder het gesê talle woonhuise, ondermeer ook dié van die swart burgemeester, het in puin gelê nadat betogers dit aan die brand gesteek het.

Slegs twee betogers is later in hegtenis geneem vir hul gewelddadige optrede, en twee polisiebeamptes is in die hospitaal opgeneem nadat hulle beserings opgedoen het tydens die onluste.

Die vorige week is sowat 40 betogers in hegtenis geneem weens gewelddadige optrede toe die lokasie se munisipale kantore afgebrand is en talle uitlanders se ondernemings in brande verwoes is..

Verskeie raadslede moes uit hulle huise vlug om die woedende betogers se klippe-reën te ontkom,

Die betogers het glo in Maart ’n memorandum van griewe aan die LUR oorhandig, maar het glo nie die gewenste reaksie gekry nie.