Plaasgrondregister binnekort ‘n werklikheid

Die ANC, by monde van Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het op ‘n ANC ontbytbyeenkoms gesê dat díe organisasie, binnekort ‘n plaasgrond-register gaan begin om die organisasie by te staan in hulle grondroofbeleid.
Die databasis sal in samewerking met belangstellendes en georganiseerde landbou opgestel word.
Dit volg nadat ‘n Grondwaardeerder-generaal in die lewe geroep is om arbitrêre waardebepalings van plaaseiendom te maak, met die doel om grondroof te versnel, nadat die vryemark gebaseerde "gewillige-koper, gewillige-verkoper" beginsel deur die party afgeskaf is.
Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het tydens die geleentheid verduidelik hoe die kommissie en grondwaardering sal werk.
‘n Grondkommissie is ook terselfdertyd in die lewe geroep wat óf deur ‘n oud-, óf ’n dienende regter gelei sal word, en wat die mag sal hê om mense te dagvaar. Grondeienaars sal ook nou verplig word om tydens so ‘n ondersoek van die kommissie, eienaarskap van plaasgrond te bewys, aldus Nkwinti.
Bykans 8 miljoen hektaar grond (om en by 7%) kan nie voor verantwoording gedoen word nie, en die ANC-SAKP alliansie glo blykbaar dat dit dalk in privaatbesit mag wees.

Die eienaars van die grond word nou geteiken, sodat dit waarskynlik ook ingesluit kan word by die grondgryp-program.
Waarnemers sê Minister Joemat-Pettersson flous egter niemand met haar bewering dat die grondregister ook sal help om waardevolle landbougrond te identifiseer wat bewaar moet word teen verdere verlies aan die mynbousektor nie. Sy sê die grond kan eerder beter aangewend word vir grondhervorming.
Sy het verder die laakbaarheid van die program probeer verdedig deur voor te gee dat boere nog steeds die menseregte van plaasarbeiders skend wat dus die regeringsintervensie van grondroof, regverdig, word gesê

Teen einde verlede jaar het anargistiese elemente op gewelddadige wyse plase in die Wes-Kaap aangeval en eiendom beskadig in wat beskou word deur boere as staatsondersteunde onluste wat gelei het tot ‘n 54% loonverhogingsdiktaat vir die sektor.
Joemat-Pettersson sê die ANC moet nou in aanloop tot die verkiesing ook die geleentheid gebruik om die vrot appels onder boere uit te wys, blykbaar as deel van die regerende party se verkiesingstrategie.
Verder beweer sy dat die boere van die Wes-Kaap die grootste oortreders van menseregte is, omdat daar nog gevalle voorkom waar plaasarbeiders byvoorbeeld water met diere moet deel.

Daar is ook blykbaar ‘n gebrek aan toiletgeriewe en elektrisiteit op sommige plase. Sy’t haar bewerings gebaseer op ‘n onlangse besoek aan Vredendal in die westelike deel van die provinsie.
Die minister het nie verduidelik waarom 90% van die oorgedrae plaasgrond wat reeds in terme van haar party se grondroofplan herverdeel is, nou geen opbrengs toon nie. Sy’t ook nie verduidelik hoe haar regering hierdie probleem gaan aanspreek, of hoe hulle beplan om voedselsekerheid op die langtermyn vir alle Suid Afrikaners te verseker, indien die trant voortduur nie.
Politieke ontleders sê dit is welbekend dat waar kommuniste aan bewind gekom het, die boere heel eerste geteiken word.