Passasiers besmet met gevreesde virus

Sowat veertig passasiers aan boord van die ultra-luukse Crown Princess plesierboot, wat onderweg is na die deelstaat Kalifornië is met die gevreesde Noro-virus besmet.

’n Woordvoerder van die plesierboot sê die passasiers is reeds sedert hulle die omgewing van San Francisco verlaat het, siek en het simptome van besmetting getoon.

Die Noro-virus, wat van persoon na persoon oorgedra word, begin met geringe simptome van grieperigheid, om later met diarree, maagkrampe, braking en algemene naarheid gepaard gaan.

Die bemanning was genoodsaak om op aanbeveling van wetenskaplikes, die hele boot met ontsmettingsmiddels skoon te kry, terwyl die besmette passasiers beveel is om onder geen omstandighede hulle kamers te verlaat nie.

Na verwagting sal die siek passasiers gevra word om in een van die hawestede af te klim om mediese behandeling te ontvang.

Die skip is tans op ’n vaart van sewe dae onderweg na Santa Barbara as finale eindpunt.

Foto – dek van plesierboot