Pampoen-koors loop hoog

In die pragtige Gamtoosvallei, waar die heerlikste sitrusvrugte gekweek word, en waar die wortel-koning van Suid-Afrika sy wortels kweek, loop die koors deesdae baie hoog, want dis pampoen-kompetisie tyd!

Die afgelope vier maande praat die mense net oor die moontlikheid van ’n reuse pampoen wat gekweek gaan word, en die boere-planne hoe dit gedoen moet word, vlieg deur die gebied.

Gamtoos hou eersdaags sy boerebasaar en daarmee sommer sy grootpampoen-kompetisie.

Selfs die dominee is ernstig om die prys te wen, en konkel ligweg met almal om seker te maak sy geheim bly net by hom.

Talle boere se grootpampoen-entoesiasme is egter gedemp met ’n groot haelstorm wat die gebied getref het, wat kan beteken dat seker kategorieë dalk nie meer kan voortgaan nie.

Die grootpampoen-kompetisie is in 2013 ingestel en die eerste wenner het met sy 119Kg kêrel tol-los gewen.

Een van die boere, Johan, het blykbaar met sy mikroligte vliegtuig laag oor die pastorie gevlieg om te spioeneer op die dominee se groot pampoen.

“Nee, ek neem foto’s vir ’n gedenkboek,” was die ontwykende antwoord op navrae.