OVK-voorsitter moet hof oortuig

Die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), adv. Pansy Tlakula is deur die hof gelas dat die onus nou op haar rus om binne twee dae voorleggings te maak wat die hof kan oortuig dat haar geloofwaardigheid onaangetas bly, en dat sy dienooreenkomstig kan handel tydens die algemene verkiesing.

Die klagte wat teen haar ingebring is, bevraagteken haar posisie as voorsitter om die verkiesing neutraal en onpartydig te lei, het die regter bevind.

Die klagte is ingedien deur ’n aantal politieke partye waarvan ondermeer Agang, die UDM van Holomisa en die ACDP skynbaar die voorlopers is.

Die politieke partye het die OVK voorsitter beskuldig dat sy nie onpartydig sal optree nie, wat die verkiesing dan nie as vry en regverdig kan verklaar nie.

Regter Wagner Wepener is op die bank om die saak aan te hoor, terwyl adv. David Unterhalter SC namens die politieke partye optree.

Adv Unterhalter het aangevoer dat Tlakula haar herhaaldelik skuldig gemaak het aan ernstige wangedrag en dat sy daardeur die geloofwaardigheid, onpartydigheid, integriteit, en onafhanklikheid van die OVK in gedrang gebring het.

Die advokaat het die hof gevra om ’n dringende aanbeveling aan die Nasionale Vergadering (NV) te maak om in te gryp voor die land volgende week ’n verkiesing hou.